Gedurende die lewensiklus van ’n BK kan hy ophou sake doen en vra om gederegistreer te word of hy kan ontbind as gevolg van likwidasie. Hierdie situasies is gewoonlik heel ingewikkeld en tegniese en gespesialiseerde inligting moet verkry word.
Likwidasie en deregistrasie is nie dieselfde nie:
Likwidasie impliseer dat die besigheid nie sy skuld kan betaal nie.
Likwidasie impliseer verder dat die besigheid sal ophou sake doen (gewoonlik as gevolg van finansiële probleme).
Die likwidasie kan geskied as gevolg van ’n geregtelike proses of deur die krediteure, of dit kan ’n vrywillige likwidasie wees waarom die lede van die BK aansoek gedoen het.
In die geval van ’n vrywillige likwidasie word ’n vorm CK6 saam met R40-00 ingedien.
Deregistrasie impliseer dat ’n besigheid verkies om te deregistreer (m.a.w. ophou om as ’n BK geregistreer te wees) en sy skuld kan betaal. Die besigheid kan na die deregistrasie in ’n ander vorm voortgesit word, bv. alleeneienaar.
As ’n BK eers gederegistreer is, kan aansoek gedoen word om dit te herstel, mits die volgende prosedures gevolg word:
Bevestig eers die BK se status by die kantoor omdat ’n aansoek vir die BK se deregistrasie moontlik reeds deur die Ontvanger van Inkomste gedoen is. As daar bevestig word dat dit gederegistreer is, moet die volgende herstelprosedure gevolg word:
Dien die CK3-vorm in duplikaat in, vergesel van R150-00. Verkry ’n beëdigde verklaring van die lede waarin hulle hul redes vir die aansoek om herstel aangee.
Indien die BK enige vaste eiendom besit het, moet skriftelike bevestiging van die Departement van Openbare Werke sowel as die Departement van Staatsbesteding verkry word dat hulle geen beswaar teen die herstel van die BK het nie. Sodanige voorneme sal ook in die plaaslike koerant geadverteer moet word om te probeer vasstel of daar openbare belang in die herstel van die korporasie is. Indien enige beswaar geopper word, moet die Registrateur binne 30 dae na die datum van publikasie van sodanige beswaar in kennis gestel word.